Whallo Whello
Jy sien, ek was in Joburg gewees. Dit was nou ‘n uitstappie hoor! Ek dink nog ons gaan na die baas se werk toe, toe ry hy oneindig lank en stop eers in Joburg. Die ryery is baie snaaks. Die hele wereld gaan aan jou verby maar jy beweeg nie eers jou pootjies nie. Ek het die helfte van die pad geslaap. Probeer op die baas se skoot te klim, maar dis nie goed nie. Dan onder by sy voete, maar dis ook nie goed nie. Dan draai die baas die venster oop dat my flapore amper dromslaan hier op my bakkies. As ek hulle styf hou, dan styg ek op. Dis nie vir my om so te ry nie.
O ja, die baas het so ‘n klein boksie op die venster geplak. Dan tik hy op die ding en dit wys sulke gekleurde prentjies. Nou sal jy my nie glo nie, maar daar is ‘n ander miesies binne in die boksie. Ons ry nog so lekker en ek is heeltemal in gedagte, toe roep die miesies uit: “Hou, regs voor” Ek skrik my wesenloos en kyk vir die baas se regter voorkant maar dit lyk nie vir my of die baas ‘n hou regs voor gekry het nie. Maar die miesies is knaend. Daars sy weer: “Hou regs voor!” Ek grom vir haar. “Shut up of ek gee jou ‘n hou regs voor! En sommer agter ook as jy nie oppas nie!” So het sy die hele pad kort kort kommentaar gegee, maar ek glo haar nie meer nie.
So kom ons in Joburg aan.
Dis nou ‘n ander plek die. Ek het my neus styf toegedruk want die lug daar is glad nie skoon nie. Dit ruik na teer, bande, karre, dooie dinge en nog baie meer. Gits, toe die baas stop, toe hoor ek ‘n hele hondekoor daarbuite opstart. “Hello, bro, wha khom mhak you here?” Dis wat hulle daar se. Hulle praat nie wafrikaans nie, maar wangles. Soos in vir woef se hulle: “Woof” en vir grrrr se hulle “ghrrr”. Hallo word skielik “Hello” dit vat nogal ‘n hele rukkie voordat jy hulle verstaan. Maar hulle verstaan jou niks nie hoor.
Ons gaan toe binne in die erf in. Daar is ‘n muur rondom die erf en ’n hek en so meer. Dis om te keer dat die broers daar nie onverhoeds uitstorm en jou tekkel nie. Gelukkig is die hekkie se ysters so naby mekaar dat die broer nie daar uit kan kom nie, maar ek kan wel daardeur as ek my lyfie dun hou. Nou staan ek daar buite vir hom en gesigte trek terwyl hy daar binne agter die tralies op en afspring om my by te kom. Ok. toe gaan ek ook maar in en ons besnuffel mekaar eers ordentlik. Maar die broer lyk soos die broer maar hy ruik nie so nie. Iets is anders aan die man. Miskien is hy tog nie heeltemaal man nie. Jy kan nooit weet nie. “Hiert jy, wat maak jy nou? Klim van my af, is jy besimpel? Jy kielie my as jy so maak.” So ‘n mal brak. Sy kop raas, kan hy nie sien eks ok ‘n boetie nie? Hierdie Joburgers is skoon laf hoor!
Nou vertel hierdie gedoente wat ek nie weet of dit ‘n man is of nie ‘n man is nie vir my dat hy die buurt se rofstoeikampioen is. Hy wil nou eers vir my ‘n paar trieks wys. En dis toe wat ons hier op die grond rondrol en mekaar goed karnuffel. Maar hy is baie swaarder as Toffie. Toe gryp hy my hier aan my linkerkant se velle met sy regterkant se tande en staan met sy agterpote bo op my pens terwyl sy voorpote hier in ‘n bondel oor my nek gevou is. Ek lê salig onbewus van wat gaan kom hier op my rug. Ewe skierlik is dit boem en paf en alles word swart voor my oë. Maar toe hy my los, toe weet ek waar om hom beet te kry. Toe knyp ek hom in die holte van sy lieste daar waar die dun velletjies is. Aha, nou skielik los hy my weer. So het dit gegaan met ek en hy. Ek het tog baie trieks geleer wat ek vir Toffie gaan wys as ons weer terugkom.
Die baas het daar bly slaap. Ek nie, ek moes wakker bly om die wag te hou. Die baas het so ‘n opblaasbed gekry. Eers die ding plat uitgegooi en toe met ‘n pompding die ding styf gemaak. Toe trek hy die helfte van sy velle uit en en kruip daar onder die lappe in. Maar wat hy nie geweet het nie, is dat die opblaasbed eintlik ‘n afblaasbed is. Hy het net die enjin wat daar binne in sy binneste is opgestart en lê lekker en idle. Nes die kat maar dan bietjie luider. Hy moes liewerste die enjin se exhaust op die opblaasbed se pypie opgekoppel het. Dan sou die beslis styf gebly het. Maar toe nie. Ek bekyk die gedoente so en sien die baas raak al hoe nader aan die grond. En ja hoor, daar lê hy plat onder en word wakker. Nou het hy weer die pomp in hande. Hy vroetel hier en daar aan die bed, pomp ‘n paar slae en gaan lê weer. Dis nie lank nie, dan hoor ek hy start weer die enjin op. Nou kan ek rustig die vuilgoedblik gaan inspekteer. Ek ruik daar is kosreste in wat gaan sleg word as dit te lank daar bly. Laat ek eers kyk of ek dit gou kan opeet, dan is dit nie gemors nie. Gaats, hier val die blik om. “Mapstieks!” oei oei, die baas het sy enjin afgesit en sis hier op my. Hy wil ook nie te hard praat nie om die ander wakker te maak nie. Nou staan hy op en sit die vuilgoedblik daar waar ek dit nie kan bykom nie. Hy is glad nie gaaf nie. Laat ek maar probeer om ook te slaap. Hier by die baas se bene.
So lê ek en die baas lekker en slaap as skielik weer die ligte aangaan. Die Joburg se stad is mal. Hulle sit die ligte af as jy nog wil gesels maar hier in die middel van die nag sit hulle dit weer aan as jy eintlik wil slaap. Die baas staan op en sit dit weer af. Hoop maar dit bly nou af tot more.
Die baas het vir my ‘n bakkie pille en ‘n bakkie water onder op die bakkie se vloer neergsit. Pille? Ja ek is op die pil. Heeldag. Van my oe oopgaan tot ek gaan slaap moet ek pille sluk. Dis die dat ek altyd in die vuilgoed-blikke kyk of daar iets sagters in is. Maar luister nou wat toe gebeur. Ons ry hier in Joburg oos se geweste en die baas het weer die miesies aan die praat gekry. Dis toe wat ons hier ‘n opdraende bestyg, dat die vroumens skielik uitroep: “Draai regs!” Die baas kyk alle kante waar hy regs kan indraai en toe hy eindelik agterkom dat daar wel ‘n pad regs uitdraai, toe is hy al amper oor die pad. Maar die baas is nie bang nie. Hy sit sy flieker uit, skop al die goeters daar onder by sy voete en draai regs. Die volgende oomblik rol ek van die sitplek af. Die pille en waterbakkie rol ook om. Hier lê ek nou tussen die pille en die vloer is nat en dit was nie ek nie!
Ga. Die baas moet leer om nie vir enige miesies te luister nie. Veral nie as sy in ‘n boksie sit nie. Was ek bly toe ons weer veilig by die plaas aangekom het!
Die lewe is tog lekker
MAPSTIEKS!